Leeu word siek
Francisco Escondido
Claudio Molina

Op 'n dag kom al die wilde diere bymekaar om vir hulle 'n koning te kies.

Hulle besluit dit sal goed wees om Leeu as die koning van die diere te kies.

1

Op die byeenkoms kroon hulle Leeu as die koning van die diere. As deel van die seremonie om Leeu as koning te kroon, hou hulle 'n baie groot partytjie.

Die partytjie duur 'n hele week en al die diere bly daar tot aan die einde van die seremonie. Hulle eet, hulle drink, hulle sing en hulle dans.

2

Toe die feesvieringe verby is, gaan almal terug na hulle eie huise.

En soos die gebruik is, kom al die diere om vir Leeu te groet omdat hy nou hulle koning is.

3

Een van die besoekers wat vir Koning Leeu kom groet, is Hiëna. Toe Hiëna by Leeu se huis aankom, tref hy Koning Leeu siek in die bed aan.

Leeu sê vir hom: "Ek ly aan 'n ongeneeslike siekte."

4

Maar Hiëna sê: "O grote Koning, moenie hartseer wees oor hierdie siekte nie. Haas weet hoe om hierdie siekte te genees."

5

Die rede waarom Hiëna dit sê, is omdat hy Haas in die pekel wil laat beland by Koning Leeu as hy nie vir Leeu kan gesond maak nie.

Leeu voel sommer dadelik beter en stuur Hiëna om vir Haas te gaan roep om hom gesond te maak.

6

Hiëna hardloop om vir Haas te gaan roep. Hy sê: "Kom, ons moet na die Koning toe gaan. Hy is baie siek en het my gestuur om jou te kom roep."

Haas gaan saam na Koning Leeu. Hy sê: "Ek het gekom, O Koning! Ek hoor dat Koning my nodig het, en daarom het ek gekom, O grote Koning."

7

Leeu antwoord: "Ek is so bly om jou hier naby my te sien staan, Haas. Ek het jou self laat roep omdat my lewe aan 'n draadjie hang. Ek ly aan 'n ongeneeslike siekte. Maar Hiëna het vir my gefluister dat jy hierdie siekte van my kan genees."

8

En Haas antwoord: "U is reg, O Koning. Ek kan hierdie siekte genees, maar dit is baie moeilik om die medisyne in die hande te kry."

Leeu sê: "Moenie jou daaroor bekommer nie, Haas. Die voëltjie wat vlieg, is die een wat gevang word. Komaan, vertel nou vir ons van hierdie medisyne!"

9

En Haas sê: "O Koning, wanneer ek sê dat dit moeilik is om die medisyne te vind, bedoel ek nie dat dit ver weg is nie. As u onmiddellik gesond wil word, moet u salf van die hart van 'n hiëna laat maak."

10

Toe Hiëna dit hoor, begin hy van kop tot tone bewe, want hy weet dit is hy wat vir Leeu vertel het dat Haas sy siekte kan genees.

Dit is nutteloos om nou te probeer bewys dat Haas verkeerd is oor die medisyne waarvan hy gepraat het.

11

En daarom het Hiëna weggehardloop en nooit weer vir Leeu gaan kuier nie.

Fluit fluit my storie is uit!

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Leeu word siek
Author - Francisco Escondido
Translation - Anita Van Zyl
Illustration - Claudio Molina
Language - Afrikaans
Level - First paragraphs