Ndalo en Pendo – beste maats ooit
Ruth Odondi
Rob Owen

Dit is Ndalo. Hy is 10 jaar oud en in Graad 5 by die dorpskool. Ndalo staan altyd eerste in sy klas. "Wat is sy geheim?" vra sy maats vir mekaar.

"Hy lees en skryf uitstekend. Hoe kry hy dit reg?" wonder hulle. Ndalo vertel hulle dat hy goed vaar omdat hy baie boeke lees. Terwyl hulle tyd mors deur rond te lê, gebruik hy al sy vrye tyd om te lees.

1

Ndalo verdien soms R80 se sakgeld in 'n week. Hy bestee die meeste van sy sakgeld aan boeke wat hy by die tweedehandse boekwinkel in die dorp koop.

Hoe verdien Ndalo dan genoeg sakgeld vir hierdie boeke? Lees verder om uit te vind.

2

Hier is Pendo, die gesin se melkkoei. Sy lewer meer as 20 liter melk per dag. Ndalo se pa verkoop die melk.

'n Koei het kos en water nodig en moet in die veld kan wei. Elke dag ná skool help Ndalo dus met hierdie taak. Ndalo se pa gee hom sakgeld vir die takies wat hy verrig. En dit is die geld wat Ndalo spaar om elke week boeke mee te koop.

3

Ndalo gee eers vir Pendo 'n bossie wortels. Hy gee haar presies agt wortels per dag. Hy trek elke dag die wortels in sy pa se groentetuin uit, genoeg vir 'n dag op 'n slag.

Jy kan dit uitwerk. Jy sal sien dat Pendo amper 60 wortels per week eet. Kan jy uitwerk presies hoeveel dit is?

4

Daarna neem Ndalo vir Pendo veld toe om te gaan wei. Sy pa vermaan hom om die tyd dop te hou sodat Pendo nie langer as 'n driekwartier lank wei nie.

Pendo begin gewoonlik om ongeveer kwart oor twee te wei sodat Ndalo haar om 3-uur na die melkstal kan terugneem. Wanneer dit in die winter vroeër donker word, kan Pendo vroeër begin wei, om ongeveer halftwee.

5

Ndalo gee dan vir Pendo water. Sonder water kan Pendo nie melk produseer nie, al gee Ndalo haar ook hoeveel voer. Ndalo gaan haal emmers water by die dorpspomp omdat daar nie 'n ander pomp naby is nie.

Pendo se drinkbak hou omtrent 30 liter water. Ndalo se emmer hou slegs 5 liter. Om dus die drinkbak vol te maak, moet Ndalo baie keer heen en weer loop. Kan jy uitwerk hoeveel keer hy pomp toe en terug moet loop?

6

Ndalo neem daarna vir Pendo na sy pa sodat sy haar daaglikse 12 kg-sak graan kan kry. Ndalo werk uit dat dit amper 90 kg per week is.

Elke sak kos R39. Ndalo werk die koste van die graan vir elke week uit. Hy werk eers die koste van 7 sakke teen R40 uit, wat op R280 neerkom. Hy trek dan R7 af om R273 te kry. "Dit is meer as R1 000 per maand!" skat Ndalo. Is hy reg?

7

Ndalo se pa melk Pendo twee keer per dag. Sy produseer omtrent 24 liter melk per dag, dus omtrent 12 liter met elke melksessie.

Soms help Ndalo om Pendo te melk, maar dis nie so maklik as wat dit lyk nie. "Eendag," dink hy, "gaan ek my eie koeie hê en dan gaan ek al die melkery self moet doen."

8

Sy pa gooi die melk uit die groot emmer in kleiner tweeliterkannetjies of in eenliterbottels in. Hy verkoop dan die melk teen R8 per liter.

Een maal per week skenk Ndalo se pa 25 liter melk aan die skool se voedingskema. Elke kind kry 'n kwart liter van hierdie melk. Dit beteken dat 100 kinders op hierdie dag melk kry.

9

Vir elke liter melk wat verkoop word, gee Ndalo se pa hom 50c. Dit klink nie na baie geld nie, maar as sy pa 24 liter per dag verkoop, kom dit op 'n redelike bedraggie neer. Kan jy uitwerk hoeveel?

Ndalo spaar sy geld tot Saterdag toe, wanneer hy boekwinkel toe loop. Elke boek kos minder as R10. Hy kan dus in 'n goeie week 'n hele paar boeke koop.

10

Ndalo hou ook daarvan om van Pendo se melk te drink. Sy pa sê dat melk jou help om sterk bene en tande te kry en om fiks en gesond te wees.

Deurdat hy dus melk drink en baie groente uit sy pa se tuin eet, is Ndalo sterk en gesond. Hy word selde siek en is nooit honger nie.

11

Ndalo vergeet nooit om aan die einde van elke dag vir Pendo dankie te sê nie. Hy beloon haar met ekstra wortels of spinasieblare wat in die tuin rondlê.

"Dankie, Pendo, jy is my beste maat! Danksy jou is ek sterk, gesond en slim. As dit nie vir jou was nie, sou ek nooit al die boeke kon koop wat my help om eerste in my klas te staan nie."

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Ndalo en Pendo – beste maats ooit
Author - Ruth Odondi
Translation - Anita Dall
Illustration - Rob Owen
Language - Afrikaans
Level - Read aloud