Leeu en Vlakvark
South African Folktale
Wiehan de Jager

Lank gelede was Leeu die sterkste en mees gevreesde van alle diere. Hy sou ander diere vang en hulle eet. Maar een oggend terwyl hy opsoek was na ontbyt, beland hy in 'n jagter se valstrik.

1

Leeu het op sy hardste gebrul. Hy het getrek en getrek om van die strik vry te kom. Die strik het elke keer stywer en stywer om sy been gesit as hy daaraan trek. Uiteindelik het Leeu moeg geword. Sy been was baie seer. Toe gee hy sommer moed op.

2

Dae lank het Leeu in die son gelê en bak. Hy was honger en dors. Daar was niemand wat hom kon red nie. Hy het swakker en swakker geword. Ek gaan sterf van die honger en dors as ek in die strik bly, het hy gedink.

3

Een oggend hoor Leeu 'n geluid in die bosse daar naby. Hy luister en kyk mooi. Toe sien hy vir Vlakvark en haar kinders. Hulle praat en lag. Die vlakvarke was op pad na die rivier om water te drink en in die modder te speel voordat dit te warm word.

4

"Vlakvark! Help my asseblief! Vlakvark!" roep Leeu. "Help my om uit hierdie valstrik te kom," het hy gepleit.
"Nooit nie!" het Vlakvark geantwoord. "Jy is 'n wrede dier. Jy sal my en my gesin vir ontbyt eet as ek jou losmaak."
"Ek belowe ek sal dit nooit nie doen nie. Ons sal vriende wees as jy my vrylaat," het Leeu gesê.

5

Vlakvark het Leeu jammer gekry. "Ek hou nie daarvan om jou in soveel pyn te sien nie. Jy sal sterf van die honger," het Vlakvark gesê. Toe trek hy die valstrik los met sy lang, sterk slagtande. Leeu was los! Vlakvark het sy nuwe vriend se lewe gered.

6

"Dankie dat jy my lewe gered het," het Leeu gesê. "Ek moet nou na my familie toe gaan. Totsiens."
"Mooi loop, my vriend," het Vlakvark gegroet. Hy was bly dat Leeu nou sy vriend is. My kinders sal nooit weer vir Leeu hoef weg te hardloop nie, het hy gedink.

7

Leeu het mank en swak weggestap. Hy was ook baie honger. Toe sien hy Vlakvark se kinders in die modder speel. "Vandag is my gelukkige dag," het Leeu gesê. Sy mond het gewater.

8

"Vlakvark, my nuwe vriend," het Leeu geroep. "Ek was vir dae lank vasgekeer in daardie valstrik. Ek het niks kos gehad nie. Nou is ek te swak om te jag. Gee tog asseblief vir my een van jou kinders vir ontbyt."
Vlakvark was geskok. "Ek het jou uit die strik gered en nou wil jy my kinders eet!"

9

"Ek is baie jammer, my vriend," het Leeu gesê. "Maar ek is vreeslik honger. Ek is dalk nou swak, maar ek is steeds sterker as wat jy is." Leeu het sy mond oopgemaak en sy sterk tande gewys. "As jy nie vir my een van jou kinders gee nie, sal ek self een vat," het hy gebrul.

10

Vlakvark het geweet hy is nie so vinnig of so sterk soos Leeu nie. Hy sal nooit sy kinders in 'n geveg kon beskerm nie. "Goed dan," het Vlakvark toegegee. "Ek sal vir jou een van my kinders gee. Maar eers moet jy vir my wys hoe jy in die valstrik beland het. Net vir ingeval ek later 'n ander leeu uit so 'n strik moet help."

11

Leeu kon al amper die wonderlike smaak van 'n jong vlakvarkie in sy mond proe. Hy kon skaars wag. Hy het teruggegaan en sy voet in die valstrik gesit sodat sy vriend kon sien hoe hy gevang is.

12

"Eina!" het Leeu gebrul. Vlakvark het die strik om Leeu se poot laat toeslaan.
"Aha! Ek het jou!" het Vlakvark geroep. "Jy sal in daardie valstrik bly al is jy hoe honger en dors. Kyk of jou sterk tande en skerp kloue jou nou kan help."

13

"Hardloop! Hardloop! Hardloop weg!" het Vlakvark se vrou so hard as wat sy kon geskree. "Lig julle sterte as julle hardloop sodat julle pa julle kan sien," het sy geroep. Die vlakvarkies het so vinnig as wat hulle kon deur die bosse gehol.

14

"Vlakvark, help my asseblief," het Leeu weer gesmeek. Die jagter se valstrik het hom baie seergemaak. "Ek sal enige iets doen as jy my red," het hy gehuil.
"Nooit weer glo ek vir jou nie, jou leuenaar," het Vlakvark geroep. "Ek sal die ander diere ook waarsku dat hulle jou nie moet red nie. Jy is baie skelm."

15

Vlakvark het sy kinders in 'n ry saam met hulle ma sien hardloop. Almal se sterte was regop sodat hy hulle mooi kon sien. Hy het hulle vinnig ingehaal en saam met hulle na veiligheid ontsnap. Vandag nog hardloop vlakvarke met hul sterte in die lug om te sien of almal veilig is.

16
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Leeu en Vlakvark
Author - South African Folktale
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Wiehan de Jager
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs