Ontvoer
Richard Khadambi
Abraham Muzee

Ek en my vriend Kiki hou daarvan om plekke te verken. Ons ken ons woonbuurt baie goed.

Elke dag na skool dink ons aan 'n nuwe plek om te verken.

1

Op pad huis toe neem ons gereeld die kortpad oor die groot veld naby die ou spoorweg. Kiki se pa het ons al gewaarsku om nie soontoe te gaan nie.

Op 'n dag sien ons 'n lang man met 'n swart jas wat agter ons loop. Maar ons was eers nie bekommerd nie.

2

Ons het stadiger geloop om na die man te kyk.

Sy gesig was vol puisies. Sy lippe was te smal om sy donkerbruin tande toe te maak. 'n Diep letsel het oor die helfte van sy gesig gesny.

Hierdie man het ons agtervolg!

3

Ons het besluit om stil te staan en die vreemdeling in die oë te kyk. My hart het so hard gebons.

Ek het gedink die man sou dit dalk hoor. Ek het na hom gestaar en sy klere en gelaatstrekke in my geheue vasgelê.

Hy het nie daarvan gehou dat ek so ernstig na hom kyk nie. "Waarna kyk jy, seun?" het hy geskree.

4

Skielik besluit ons om te hardloop!

My vriend Kiki het weggekom, maar ek was nie vinnig genoeg nie. Die man het my hemp gegryp en my rof teruggepluk.

Hy het my so styf vasgehou. Ek het gedink my ribbes gaan kraak.

5

Die lang man het my soos 'n velletjie papier opgetel en my agterin 'n stasiewa wat daar naby gestaan het, gegooi. Hy het voor in die stasiewa geklim. 'n

Ander man wat ook in die stasiewa was, het my geblinddoek. Hy het my hande agter my rug vasgebind.

Die bestuurder het toe so vinnig soos 'n ambulans weggejaag.

6

Agterin die stasiewa het die man langs my 'n nat lap oor my gesig gedruk. Die lap het 'n soet geur gehad. Dit het my slaperig laat voel.

Toe ek wakker skrik, was ek in 'n donker kamer vol spinnerakke en muise. Ek was gelukkig nie meer geblinddoek nie.

7

Die donker kamer se deur het krakerig oopgegaan, en 'n man met 'n bord het binnegekom.

Dit was hy wat my vasgebind en aan die slaap gemaak het.

"Hier is jou kos. Jy beter dit eet, want jy gaan op 'n lang rit," het die man gemompel. Hy het my hande losgemaak.

8

Toe ek die woord 'rit' hoor, het ek besluit om te eet. Ek moes sterk wees as ek wou ontsnap.

Terwyl ek eet het die man gesit en 'n sigaret gerook. Die rook het die hele kamer gevul.

9

Skielik het die ander twee mans binnegekom. Hulle het 'n seun gesleep.

Dit was Kiki!

Hulle het hom ook gevang. Ons was nou albei in die donker kamer vasgekeer.

10

Ek het uitgewerk dat die lang, lelike man die leier van die groep was. Hy het bevele aan die ander twee uitgedeel.

Maar die ou wat vir my kos gebring het, het blykbaar nie gehou van wat hulle doen nie. Na 'n ruk het ons hulle buite die kamer hoor stry.

Die leier het geskree: "Ek gee nie om of jy sy familie ken nie. Jy kan nie nou van besluit verander nie."

11

Die argument het ons laat besef dat een van hulle ons ken. Ek het gewonder wie dit kan wees.

"Ons moet 'n manier kry om te ontsnap," het Kiki gesê. "Ons ouers het nie geld om 'n losprys te betaal nie."

Die geluk was aan ons kant. Die mans het aanhou stry en later met mekaar begin baklei. Ons het die deur van binne die kamer af saggies gegrendel. Daarna het ons na 'n manier begin soek om te ontsnap.

12

Ons het dun ligstraaltjies sien skyn tussen ou houtplanke wat teen 'n muur vasgekap was. Ons het aan die hout getrek totdat die spykers uit die muur losgekom het.

Ons het aan nog 'n plank en nog 'n plank getrek totdat die dun ligstraal helderder geword het.

Daar was 'n klein venster onder die houtplanke!

13

Vinnig het ons 'n plan beraam. Kiki was vinniger en kleiner as ek. Hy sou hardloop om hulp te gaan soek. Ek het hom opgehelp.

Kiki het uit die venster uitgewikkel. Dit was nie te ver grond toe aan die buitekant nie. Ek het hom op sy voete hoor land.

Hy het diep asemgehaal en toe laat spaander.

14

Die mans buite die kamer het nou al begin om die deur oop te skop.

Hulle het die kamer ingebars en vir 'n ruk lank na die venster gestaar. Toe storm hulle buitetoe. Hulle het aan mekaar gestamp en gestoot, maar hulle was nie seker watter rigting om in te slaan nie.

Die mans was woedend. Veral hul lelike leier was rasend. Hy het my geslaan en geskree: "Jou ouers sal hiervoor betaal!"

15

Die mans het die planke weer oor die venster vasgespyker en my binne in die kamer toegesluit.

Maar hulle kon steeds nie saamstem wat hulle te doen staan nie. Ek kon hulle weer hoor stry.

Die man wat so baie rook, wou my help. Die bestuurder was bekommerd dat my vriend die polisie sou terugbring.

En die lelike leier wou net die losprys hê.

16

Dit het soos 'n ewigheid gevoel voordat ek die sagte klop buite die venster hoor.

'n Grootmens se stem het gesê: "Moenie bang wees nie. Die polisie is hier. Lê op die vloer, maak jou kop toe. Moenie beweeg nie."

17

Ek is nie seker wat volgende gebeur het nie. Alles het gebeur!

Die polisie het die kamer binnegestorm en die mans verras.

Daar was 'n geskree, baie geraas en 'n paar geweerskote.

18

'n Polisievrou het my kamerdeur oopgemaak. Sy het my van die vloer af opgetel en 'n kombers om my gevou.

"Jou vriend was baie gelukkig," het sy gesê. "Hy het die hoofpad hier naby gekry. Ons was op patrollie toe hy voor ons in die pad inhardloop. Nadat hy sy storie vertel het, het ons versterkings laat kom om die kriminele 'n les te leer!"

19

Die drie mans is gearresteer, geboei en agterin 'n polisievangwa ingebondel.

Ek het saam met die polisievrou in 'n kar geklim. Sy het my huis toe geneem waar my bekommerde ouers vir my gewag het.

Na daardie dag was ek en Kiki versigtiger wanneer ons op 'n verkenningstog gegaan het.

20
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Ontvoer
Author - Richard Khadambi, Collins Kipkirui
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Abraham Muzee
Language - Afrikaans
Level - Read aloud