Soektog na die gees van Lente
Mosa Mahlaba
Selina Masego Morulane

Die winter se koue was verby. Die lente was op pad na Nkanyezi se dorpie.

Binnekort sou die mense van die dorpie die nuwe seisoen vier. Nkanyezi het meer na die lentefees uitgesien as na enige ander dag van die jaar.

1

Een warm oggend het Nkanyezi twee ou mense van die dorpie oor die fees hoor praat. "Die mense van Ndlovu het hul geesdrif vir die feesviering verloor," het een gesug.

"Hoe kan ons ’n lentefees hou as die mense vergeet het hoe om fees te vier?" het die ander een gevra.

2

Nkanyezi was bekommerd. "Hoe sal die son skyn as ons nie sing om hom uit sy winterslaap wakker te maak nie?" het sy haarself gevra.

Nkanyezi het ’n lang ruk daaroor nagedink. "Ek moet dit wat ons verloor het, weer terugkry," het sy besluit. "Ek moet gaan soek na iets wat die geesdrif vir die feesvieringe na die dorpie sal terugbring."

3

Die oumense het Nkanyezi toestemming gegee om op reis te gaan. Hulle het vir haar ’n sak gegee vir al die goed wat sy op reis sal kry.

Nkanyezi was bang, maar sy het geglo sy sal dit regkry.

4

Nkanyezi het heeldag geloop. Sy het ’n heuwel opgeklim, en in ’n vallei afgeklim. Sy het oor ’n rivier gevaar, en tussen skerp rotse opgeklouter. Sy het oor ’n vlakte geloop totdat sy by die skadu van die rooi berge gekom het.

5

Teen die aand het Nkanyezi ’n dorpie bereik. Dit was geverf met kleure en patrone wat sy nog nooit tevore gesien het nie. Sy het die dorpie se oumense vertel van haar reis om die geesdrif na haar mense toe terug te bring.

Die ma van die stam het vir Nkanyezi ’n geskenk gegee. "Ons gee die verf met liefde vir julle," het sy gesê. "Laat dit weer kleur in julle vaal dorpie bring."

6

Nkanyezi het die hele dag deur ’n woud van reusebome geloop. Die hemel het donker geword. Sy kon naderhand nie meer sien nie, maar toe hoor sy die klop van tromme.
Sy het haar na die tromme gehaas. Sy kon die begeesterde dans in haar moeë voete voel.

7

Nkanyezi was nou in die dorpie Bhubezi. Die mense het om ’n vuur gesit terwyl hulle tromme speel en sing. Sy het nog nooit sulke wonderlike musiek gehoor nie.

Sy het die dorpie se oumense vertel van haar reis om die geesdrif vir die feesviering na haar mense toe terug te bring. Die Bhubezi het haar genooi om te rus en die nag oor te bly.

8

Die volgende oggend het die stamhoof vir Nkanyezi geroep. "My kind," het hy gesê, "hier is ’n spesiale trom. Dit speel elke keer ’n nuwe lied as jy daarop slaan."

Nkanyezi het die oumense bedank en die trom in haar sak gesit. Sy het verder gestap. Sy was baie bly oor die geskenk van musiek en dans.

9

Op die derde dag van haar reis, loop sy verby ’n paar vet koeie. ’n Wonderlike geur het haar smaakkliere gekielie, haar mond laat water en haar neus laat kriewel.

Sy het die geur gevolg en by ’n dorpie aangekom waar mense by stomende potte bredie gestaan het. Nkanyezi het nog nooit sulke smake geproe nie. Sy het vir die mense van haar reis vertel.

10

Die volgende oggend het die dorpie se kokke vir haar ’n geheime speserymengsel gegee. "Ons dogter," het hulle gesê, "hierdie speserye sal tevrede magies waarborg! Ons gee vir jou die geskenk van kos."

Nkanyezi het hulle bedank en die speserye in haar sak gesit. Sy het geweet sy het alles wat sy nodig het. Met nuwe energie het sy die lang reis terug na haar dorpie aangepak.

11

Toe sy daar aankom, het die mense van Ndlovu om haar saamgebondel. Hulle wou van al haar avonture hoor.

Sy het hulle vertel wat sy alles gesien, gehoor en geëet het. Sy het haar sak oopgemaak en die geskenke met almal gedeel.

Die vrygewigheid van ander, en Nkanyezi se dapperheid het kleur, musiek en kos na die mense toe teruggebring.

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Soektog na die gees van Lente
Author - Mosa Mahlaba
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Selina Masego Morulane
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs