Nonkungu en die imbulu
Alan Kenyon
Wiehan de Jager

Lank gelede was daar ’n arm man en vrou. Hulle het net een kind gehad, 'n dogter. Haar naam was Nonkungu. Hulle was baie lief vir haar. Toe sy oud genoeg was, stuur hulle haar om by haar ryk oom te gaan bly.

Nonkungu se ma het spesiale klere met lint, knope en krale vir haar gemaak.

Uiteindelik het Nonkungu vertrek.

1

Op pad het Nonkungu ’n meisie met stukkende klere ontmoet. "Waarheen gaan jy?" het die meisie gevra.

"Ek gaan vir my oom Mtonyama kuier," het Nonkungu geantwoord.

"Mtonyama is ook my oom! Ek gaan ook vir hom kuier," het die meisie gesê. Hulle loop toe saam en na ’n ruk vra die meisie, "Kan ek jou mooi klere asseblief aanpas?"

2

Nonkungu het haar klere uitgetrek en dit vir die meisie gegee. Toe die meisie haar klere uittrek, sien Nonkungu sy het ’n stert!

Nonkungu was bang. Sy het besef die meisie is in werklikheid ’n imbulu – ’n slang!

Hulle het ’n entjie verder geloop, toe vra Nonkungu, "Gee asseblief my klere terug."

3

"Laat ek dit net dra totdat ons by die volgende boom kom," het die imbulu geantwoord.

Toe hulle by die volgende boom aankom, vra Nonkungu vir die imbulu, "Gee asseblief my klere terug."

"Laat ek dit net dra totdat ons by daardie veld kom," het die imbulu geantwoord.

Nonkungu was bang, daarom het sy ingestem.

4

Uiteindelik kom hulle by die veld aan. Nonkungu vra vir die imbulu, "Gee asseblief my klere terug."

"Laat ek dit net dra totdat ons by daardie hut kom waar die vrou sit," het die imbulu gesê. Sy het na 'n hut in die verte gewys.

Toe hulle nader aan die hut kom, stamp die imbulu vir Nonkungu uit die pad uit en sy hardloop vooruit.

5

Die imbulu het vir die vrou by die hut gesê, "Kyk na hierdie meisie met die stukkende klere wat my volg. Ek wens sy wil weggaan." Nonkungu was so bang. Sy het weggehardloop en in die kraal gaan wegkruip.

Die imbulu het na die oom gegaan en gesê, "Ek is jou niggie, Nonkungu."

6

Mtonyama en sy familie het die meisie verwelkom. Hulle was baie goed vir haar.

Maar arme Nonkungu moes in die kraal slaap en die honde se kos met hulle deel. Bedags het sy in die veld weggekruip en hierdie liedjie gesing: "O arme ek, o arme ek. My pa en my ma het my gestuur om by my oom Mtonyama te bly. Op pad het ek ’n imbulu ontmoet en sy het my romp en my krale gevat. O arme ek, o arme ek."

7

Eendag loop Mtonyama se oudste seun in die veld. Hy het die vreemde hartseer liedjie gehoor. Hy het nie geweet wie dit sing nie, maar terug by die huis vertel hy sy pa daarvan.

Mtonyama het onmiddellik veld toe gegaan. Hy het ook die liedjie gehoor en het rondgesoek totdat hy vir Nonkungu gekry het.

8

Nonkungu het haar oom alles vertel wat gebeur het. Mtonyama het haar teruggeneem na sy huis toe waar hy haar in ’n hut weggesteek het. Hy het geweet hoe om die imbulu te vang.

Mtonyama het gehoor ’n imbulu se stert hou van melk. Dit kan nie verby melk gaan sonder om ’n bietjie te drink nie. Hy beveel toe sy manne om ’n gat te grawe en dit vol suurmelk te tap.

9

Mtonyama roep daarna al die meisies in die dorpie om aan ’n springkompetisie deel te neem - oor die gat vol melk.

Die imbulu was bekommerd. Sy wou nie oor die gat spring nie want sy het geweet haar stert sou lus wees vir die suurmelk. Sy gaan toe by ’n hut in en maak haar stert styf teen haar lyf vas voordat sy weer by die ander meisies gaan staan.

10

Die een meisie na die ander het oor die gat met suurmelk gespring. Uiteindelik was dit die imbulu se beurt. Sy het hoog oor die gat probeer spring, maar haar stert het losgekom.

Die imbulu se stert het haar af, af, af in die suurmelk getrek.

11

Terwyl die imbulu in die melk worstel, het die mans vinnig die gat met sand toegegooi en haar begrawe. Dit was die einde van die imbulu.

Nonkungu het daarna vir ’n lang, lang tyd gelukkig by haar oom gebly.

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Nonkungu en die imbulu
Author - Alan Kenyon, Viv Kenyon
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Wiehan de Jager
Language - Afrikaans
Level - Read aloud