Nangila se dapperheid
Violet Otieno
Vusi Malindi

Lank gelede was daar ’n man met ’n baie ernstige wond aan sy been. Hy kon nie staan of loop nie.

Die man het in ’n dorpie saam met sy vrou en kinders gebly.

1

Die paartjie het drie seuns en een dogter gehad.

Die dogter se naam was Nangila. Dit was haar werk om na haar pa om te sien.

Die seuns het op die lande gewerk en die diere opgepas.

2

Nangila was ’n mooi meisie. Al die mense in die dorpie het van haar gehou en haar gerespekteer.

Haar ouers wou ’n goeie man vir Nangila kry.

Hulle het ’n moeilike taak opgelê om die regte man te vind.

3

As iemand met Nangila wou trou, moes hy ’n krui uit die meer naby die dorpie gaan haal.

Die krui sou haar pa se wond gesond maak.

Maar die meer was vol gevaarlike geeste.

4

’n Paar mans het probeer, maar hulle het sonder die krui teruggekeer.

Party mans het glad nie eens van die meer af teruggekom nie.

5

Nangila was bekommerd. Nie eens haar broers wou na die meer toe gaan nie. Daarom het sy besluit om self die krui te gaan haal.

"My liewe dogter," het haar ma gesê, "hoe sal jy slaag as sterk mans dit nie eens kan doen nie?" Maar Nangila het klaar haar besluit geneem.

6

Op pad na die meer het Nangila ’n ou vrou met 'n bondel hout ontmoet. Sy het die vrou gehelp om die vuurmaakhout te dra.

Die ou vrou was dankbaar. Sy het vir Nangila gesê, "Ek sal jou vertel hoe om by die geeste se meer uit te kom, en wat om te doen as jy daar is."

7

Toe Nangila by die meer kom, het sy die geestefamilie gesien. Hulle het gedrink en gedans.

Sy het hulle wagtend dopgehou. Een vir een het die geeste aan die slaap geraak.

8

Toe die geeste almal geslaap het, het Nangila in die meer in geduik.

Sy het die krui gevind en dit in haar sak gesit.

Terwyl sy weer land toe swem, het die golwe hoog om haar geswel.

9

Die geeste was alreeds wakker toe Nangila uit die water klim. Sy was bang, maar sy het die liedjie gesing wat die ou vrou haar geleer het:

Ek, dogter van Wekesa,
Ek is van die meer.
Ek het gekom, want die mans is te bang.
My pa kort die krui om sy wonde te heel.
En nou is ek hier,
Op die plek wat mense bangmaak,
Omdat julle hier heers.

10

Nangila se stem was so soet dat die geeste vir haar gevra het om weer en weer vir hulle te sing.

Haar sang het die geeste weer aan die slaap gesus.

Nangila het toe vinnig teruggehardloop na haar dorpie toe.

11

Almal het gewag dat Nangila terugkeer.

Nadat sy haar pa se wond gesond gemaak het, kon haar pa weer staan.

Die hele dorp het gedans en vir Nangila geprys.

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Nangila se dapperheid
Author - Violet Otieno
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Vusi Malindi
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs