Koning van die voëls
South African Folktale
Wiehan de Jager

Eendag, lank gelede, het die voëls ’n vergadering gehou. Hulle wou ’n koning hê, nes die mense en diere.

Watter voël sou koning word?

1

"Arend, want hy is sterk en koninklik!" het een voël gesê.

"Nee, hy het nie ’n kroon nie. En as hy roep, klink hy te hartseer," het ’n ander een gesê.

"Dan moet dit volstruis wees, want hy is die grootste en hy brul soos ’n leeu," het ’n voël uitgeroep.

"Nee, hy kan nie vlieg nie. Die koning van die voëls moet kan vlieg."

2

"Ek dink ek moet koning wees," het Pou voorgestel. Hy het met sy stert gepronk. "Ek is so mooi."

"Jy is te trots," het Uil gekeer. "Ek het die grootste oë van enige voël. Ek moet koning wees."

"Nee, nie jy nie Uil," het die ander voëls geroep. "Jy gaan slaap as die son skyn!"

3

Hulle het nie baie ver gekom om ’n koning te kies nie.

Toe kry ’n voël ’n idee. "Die een wat die hoogste kan vlieg sal koning word," het sy voorgestel.

"Ja, ja," het al die voëls geroep. Almal het die lug in gevlieg.

4

Gans het ’n dag lank regoor die hoogste berge in die wêreld gevlieg.

Arend het twee dae lank in die hemel bo die berge gevlieg.

Maar Aasvoël het vir drie volle dae, sonder om te stop, reguit na die son toe gesweef. Ver bokant almal het die voëls vir Aasvoël hoor roep, "Ek is die hoogste. Ek is die koning!"

5

Maar net bokant hom hoor Aasvoël ’n sagte stemmetjie. "Tink, tink, tink! Ek is die hoogste. Ek is die koning." Dit was Tinktinkie, die kleinste voëltjie van almal.

Hy het aan Aasvoël se groot stertvere vasgeklou toe hy die lug in sweef.

6

"Jy sal my nie weer wen nie," het Aasvoël gesê en pylreg die lug in gevlieg.

Hy het hoër en hoër gestyg totdat hy nie meer kon vlieg nie. "Ek is hoër as enige ander voël. Ek is julle koning!" het hy geroep.

7

Maar van onder Aasvoël se vlerk het die klein voëltjie gekruip. "Tink, tink, tink! Dit is ek, die kleinste een! Ek is julle koning."

Aasvoël was te moeg om verder te vlieg.

8

Hy sweef toe af, met die klein voëltjie steeds onder sy vlerk.

Die ander voëls was baie kwaad vir Tinktinkie. Hulle het vir hom gewag om al sy vere uit te pluk.

9

Maar die ratse klein Tinktinkie het gesien hoe kwaad die ander voëls was. Vinnig het hy in ’n leë slanggat in gevlieg.

Die wagtende voëls het vir Uil gesê, "Jy moet met jou groot oë waghou by die gat totdat hy uitkom."

Uil het voor die gat gaan sit.

10

Maar die son was warm en gou het Uil aan die slaap geraak.

Klein Tinktinkie het uit die slanggat geloer. Toe hy sien Uil slaap, het hy weggevlieg.

11

Uil was baie skaam omdat hy die klein voëltjie laat ontsnap het.

Nou jag hy net saans. In die dag slaap hy waar die ander voëls hom nie kan sien nie.

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Koning van die voëls
Author - South African Folktale
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Wiehan de Jager
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs