Koning Kaja en sy dogter
Amana Yunus
Natalie Propa

Lank gelede was daar 'n koning genaamd Kaja. Hy het in 'n paleis gewoon saam met die koningin en hulle dogter, Prinses Apenyo.

Prinses Apenyo was so mooi dat al die mans met haar wou trou. Maar Koning Kaja het 'n groot bruidskat vir die prinses gevra.

1

Naby Koning Kaja se kasteel het hoofman Aloeda die Grote gebly. Hy is "Die Grote" genoem omdat almal in die buurt hom gehoorsaam het. (Hy was baie wreed as iemand nie na hom geluister het nie!)

Hoofman Aloeda se vrou het onlangs aan malaria gesterf en hy wou 'n nuwe vrou hê.

2

Die vet ou hoofman gaan uiteindelik na Koning Kaja toe om 'n bruidskat vir die jong prinses aan te bied.

Terwyl die twee mans oor die prys kibbel, hoor Kembo, die bediende, hulle gesprek. Kembo was groot vriende met Prinses Apenyo.

3

Hoofman Aloeda het ingestem om die helfte van sy rykdom aan Koning Kaja te gee. Dit het 'n naald ingesluit wat ook deel van die bruidskat sou wees.

Die voorbereidings vir die bruilof is in die geheim getref omdat die koning geweet het sy dogter sou nie gelukkig wees met sy besluit nie.

4

'n Week voor die koninklike bruilof het Kembo na Prinses Apenyo toe gegaan.

"My liewe prinses, jou pa reël jou troue met Hoofman Aloeda. Julle gaan volgende week trou," het Kembo gesê.

5

Prinses Apenyo was geskok. Sy het nie geweet wat om te doen nie.

Toe dink sy, "Ek sal nooit met die vet ou hoofman Aloeda trou nie. Nooit nie! Ek moet na Trevor toe gaan. Dalk kan hy iets doen voordat dit te laat is."

Trevor was Prinses Apenyo se kêrel.

6

Daardie aand sluip Apenyo uit die paleis uit. As haar pa uitvind waarheen sy gaan, sou hy baie kwaad wees.

Sy het deur die digte, donker woud gehardloop totdat sy by Trevor aangekom het. Sy was moeg, honger en dors.

7

"My lief, waarom het jy so ver gehardloop? Alleen, hierdie tyd van die nag?" het Trevor gevra.

Hy het vir haar water gebring en haar laat rus maar hy was onrustig terwyl hy gewag het vir Apenyo se antwoord.

8

"My liewe prinses, wat is fout?" het Trevor gevra.

Apenyo het gesug en hartseer geantwoord, "My pa wil hê ek moet met Aloeda die Grote trou. Maar ek kan nie met daardie aaklige man trou nie. Trevor, ek wil met jou trou, selfs al is jy arm. Ek sal swaarkry, maar ek is lief vir jou."

9

"Maar prinses, ek het niks om vir jou bruidskat te gee nie. Jy weet ek is 'n arm man," het Trevor gesê.

"Ek weet, maar ek wil net met jou trou," antwoord Apenyo. Sy het 'n rukkie gedink, toe sê sy, "Kom ons gaan na Kategga, die bootsman. Hy kan ons oor die rivier neem om te ontsnap. My pa sal ons nooit kry nie."

10

By die paleis, het Koning Kaja van die prinses se verdwyning uitgevind. Hy het sy onderdane beveel om oral in die dorp na haar te gaan soek.

Die koning se wagte, soldate en al die ander mense het gesoek, maar hulle kon die prinses nêrens kry nie.

Hulle het teruggegaan na die koning toe en hom vertel Apenyo is weg. "Gaan soek haar dan in die bos," het Koning Kaja beveel. Hy was baie ontevrede.

11

Soos Prinses Apenyo en Trevor na die rivier toe gehardloop het, het donker wolke in die lug begin saampak. 'n Groot storm was op pad.

12

Kategga, die bootsman, was besig om sy boot vas te meer toe die paartjie aankom. Trevor het vir Kategga gevra om hulle oor die rivier te roei.

Kategga het geweier. Hy het verduidelik dat daar 'n groot storm op pad is. Dit sou te gevaarlik wees.

13

Trevor het daarop aangedring en verduidelik hoekom hulle anderkant moes kom. Hy steek toe sy hand diep in sy sak en haal 'n muntskulp uit om vir Kategga te gee.

Toe Kategga hul storie hoor en die mooi skulp sien, het hy hulle jammer gekry. Hy het ingestem om hulle oor die rivier te neem, ten spyte van die weer.

14

Kategga het die boot nader gesleep en gesê hulle moet inklim. Hy tel toe sy spane op en begin roei.

Toe Koning Kaja en hoofman Aloeda by die rivier aankom, het hulle drie mense in die boot gesien. Hulle het besef dat die twee verliefdes ontsnap het.

15

Swaar winde het die boot geskommel. Kategga kon dit naderhand nie meer beheer nie. Koning Kaja het uitgeroep, "Apenyo, kom asseblief terug! Ek het jou vergewe en sal julle nie straf nie."

Maar dit was te laat. Die boot het omgekantel en al drie die mense het in die rowwe water geval en verdrink.

Na daardie dag, kan almal in Koning Kaja se koninkryk trou met wie hulle wil, ryk of arm.

16
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Koning Kaja en sy dogter
Author - Amana Yunus
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Natalie Propa
Language - Afrikaans
Level - Read aloud