Woud van slange
Joseph Sanchez Nadimo
Rob Owen

Naby ’n klein dorpie, omring deur heuwels en ’n woud, wemel dit van die slange.

Die grootste slang se naam was Lego. Die slang het baie mense banggemaak, want dit kon bokke en skape heel insluk.

1

Eendag wil Apiyo, Ajoh en Atieno na die woud toe stap om vuurmaakhout te gaan haal.

Die meisies se ouma het hulle gewaarsku, "Pasop vir Lego, die groot slang. Moet niks anders as vuurmaakhout uit die woud neem nie."

2

Die meisies het melk, piesangs, patats en water ingepak. Hulle het ook toue gekry, en ’n skerp kapmes waarmee hulle hout kon kap.

Toe vertrek hulle na die woud.

3

Op pad het die susters gelag en gesels.

Skielik sê Apiyo, die oudste suster, "Sjuut, ons is amper by Lego se blyplek."

4

Atieno het na die ander geroep, "Kyk, hier is Lego se goue tande. Kom ons vat dit."

Apiyo het hulle herinner, "Moenie Ouma se waarskuwing vergeet nie. Ons mag niks anders as vuurmaakhout uit die woud neem nie."

5

"Ek vertrou nie vir Ouma nie," het Ajoh geantwoord. "Ek dink sy wil keer dat ons kry wat ons wil hê. Sy is jaloers op ons. Ek sal die goue tande vat."

Haar susters was bekommerd. "Ajoh, ons waarsku jou."

Ajoh het nie omgegee nie.

6

Net toe kom soek Lego na sy tande. Hy was woedend omdat hy sy goue tande nêrens kon kry nie. Skielik hoor Lego die meisies gesels en lag.

Hy het onder ’n rots naby die pad gaan wegkruip. Dis waar die meisies verby sou kom.

7

Die susters het hulle vuurmaakhout op hul koppe gedra. Meteens hoor hulle, "Sisssssss!" Hulle was so bang en het probeer wegkruip.

Maar Lego was reg voor hulle, sy bek wyd oop, gereed om te pik.

8

"Wie het my goue tande gevat?" het Lego gevra.

Niemand het geantwoord nie.

"Die onskuldige een sal pragtig kan sing. Sy sal met haar vuurmaakhout huis toe kan gaan. Maar die skuldige een sal foute maak. Ek sal die volgende drie dae aan haar eet!"

9

Apiyo het met ’n helder stem begin sing.

Daarna was dit Atieno se beurt om te sing. Sy het ook mooi gesing.

10

Ajoh se beurt was heel laaste. Sy was vreeslik bang. Sy het vorentoe getree en begin sing. Maar haar sang was verskriklik en die woorde sommer heeltemal verkeerd.

"Hoekom sing jy nie so mooi soos die ander nie?" het Lego geskree. Die slang het geweet Ajoh het die goue tande gesteel.

11

Toe sluk Lego vir Ajoh in.

Haar susters het na die dorpie teruggehardloop en die hele storie gaan vertel.

12
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Woud van slange
Author - Joseph Sanchez Nadimo
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Rob Owen
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs