My eerste dag by die mark
Timothy Kabare
Catherine Groenewald

Ek bly in die Kakuma-gemeenskap, dit is 'n baie warm, droë plek vol doringbome.

Daar is meer bokke as mense. Selfs die mark is stil, met net ʼn paar klein winkeltjies. Die meeste mense gebruik trapfietse as vervoermiddel.

1

Een oggend roep my ma my en sê: "Etabo, vandag is jy ses jaar oud. Ons het 'n geskenk vir jou." "Wat is dit? Wat is dit?" vra ek gretig.

"More gaan ons met die bus na die mark in Eldoret," antwoord sy. "En jy mag saam met ons kom!" My eerste besoek aan die stad! Ek was so opgewonde dat ek skaars daardie nag kon slaap.

2

Die volgende oggend staan ek by die Kakuma-busstop tussen my ma en my tannie in my nuwe blou denim en rooi T-hemp.

Ek het baie klein tussen my lang skraal ma en my groot ronde tannie gevoel.

3

Die bus was so vol dat ek op my ma se skoot moes sit.

Ek was so moeg van die hitte en die opgewondenheid dat ek die hele pad geslaap het en niks gesien het nie.

4

Die son het net opgekom toe ons by die Eldoret-mark aankom. By die ingang was daar 'n vrou wat mielies verkoop.

Aan die oorkant was daar twee mans besig om hulle soetpatats uit te pak. In die ander hoek was daar 'n vrou wat 'n glinsterende blou helikopter vashou. "Mamma, Mamma, kyk net daardie helikopter!" Maar my ma het my weggetrek.

5

In die middel van die mark was daar 'n stalletjie waar 'n mens verskillende soorte vrugte kon koop. Party van die vrugte het ek nog nooit vantevore gesien nie.

"Wat is die name van al hierdie vrugte?" vra ek my ma. Sy wys na die verskillende vrugte: "Hierdie is lemoene, en daardie is koejawels." Ek draai om en vra: "En daardie?"

6

Van al die vrugte in die stalletjie hou ek die meeste van die appels. Ek hou van hulle kleur en vorm. Ek wonder hoe dit proe.

Ek draai na my ma en vra: "Kan Mamma vir my een koop, asseblief?"

7

Die oomblik toe my ma vir my die appel gee, het ek haar hand gelos en die appel met albei hande gevat. Ek het aan die sappige appel gebyt.

Ek het nog nooit 'n vrug so geniet soos wat ek daardie appel geniet het nie. Ek het aan niks anders as my appel gedink nie.

8

Toe ek die appel klaar geëet het, kyk ek op na my ma. Maar sy was nie daar nie! My ma en my tannie was weg! Ek het na regs gekyk en na links gekyk, maar hulle was nêrens te sien nie.

"Het jy my ma gesien?" vra ek vir die vroue wat daar naby aartappels verkoop. Maar hulle antwoord nie. Ek begin huil.

9

'n Rukkie later vat 'n vrou my aan die hand en neem my na 'n plek waar daar ander kinders is.

'n Groot man met 'n dik baard vra: "Wat is jou naam, seun?" "E-ta-bo," antwoord ek deur my trane.

10

Ek wonder of kinders ook by die mark verkoop word. Ek hou op huil en kyk rond om te sien of iemand die kinders in die kamer kom koop.

Daar kom 'n vrou in die kamer in en tel 'n kind op. "Ek gaan die volgende een wees wat weggevat word," dink ek, "en ek gaan nooit weer huis toe nie." Ek begin weer huil.

11

Toe ek die man met die dik baard hoor sê: "Waar is Etabo?" huil ek nog harder.

"Ek wil nie saam met jou gaan nie."

12

Toe my ma en my tannie my naam hoor, kom hulle haastig ingestap.

"Etabo, Etabo!" roep 'n bekende stem. Dit is my ma!

13

Toe ek opstaan om my ma te druk, sê my tannie: "Etabo, ons het na jou gesoek om jou present vir jou te gee."

En uit 'n groot sak haal sy 'n glinsterende blou helikopter. "Dit is joune!" sê sy.

14
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
My eerste dag by die mark
Author - Timothy Kabare, Ursula Nafula
Translation - Marisa Kruger, Dominique Cloete
Illustration - Catherine Groenewald
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs