Dit was ’n meisie wat die vreemde vorm in die verte eerste gesien het.
Soos die vorm nadergekom het, het die meisie gesien dat dit ‘n swanger vrou was.
Skaam, maar dapper, het die meisie nader aan die vrou gestap. “Sy moet by ons bly,” het die meisie se mense gesê. “Ons sal haar en haar kind veilig hou.”
Gou was die kind op pad. Almal wou help. “Druk!” “Bring komberse!” “Water!” “Dru-u-uk!”
Maar toe hulle die baba sien, het almal van skok weggespring. “’n Donkie!”
Almal het begin stry. “Ons het gesê ons sal die ma en kind veilig hou, en dit is wat ons sal doen,” het party gesê. “Maar hulle sal vir ons slegte geluk bring,” het ander gesê.
Die vrou was meteens weer alleen. Sy het gewonder wat sy met die vreemde kind moes doen. Sy het gewonder wat sy met haarself moes doen.
Maar uiteindelik het sy aanvaar dat hy haar kind was, en sy was sy ma. As die kind maar so klein kon bly, sou alles dalk anders kon wees.
Maar die donkie het gegroei en gegroei totdat hy later nie meer op sy ma se rug kon pas nie. Dit maak nie saak hoe hard hy probeer het nie, hy kon nie soos ’n mens word nie. Sy ma was gereeld moeg en gefrustreerd. Soms het sy hom werk laat doen wat vir diere bedoel was.
Verwarring en woede het binne Donkie opgebou. Hy kon nie dít doen nie, en hy kon nie dát doen nie. Hy kon nie sús wees nie, en hy kon die só wees nie. Hy het later so kwaad geword dat hy sy ma platgeskop het.
Donkie raak toe baie skaam. Hy het so ver en vinnig as moontlik weggehardloop.
Dit was al donker toe hy uiteindelik ophou hardloop. Donkie het verdwaal. “Hie-ho?” het hy vir die donker gefluister. “Hie-ho,” het dit ge-eggo. Hy was heeltemal alleen. Opgekrul in ’n stywe balletjie, het Donkie diep en onrustig aan die slaap geraak.
Toe Donkie wakker word, staar ’n vreemde ou man af na hom. Hy het in die ou man se oë gekyk en ’n sprankie hoop voel flikker.
Donkie het by die ou man gaan bly. Die man het hom geleer hoe om te oorleef. Donkie het geluister en geleer, en die ou man ook. Hulle het mekaar gehelp en hulle het saamgelag.
Een oggend vra die ou man vir Donkie om hom na die berg se spits te dra.
Hoog tussen die wolke het hulle aan die slaap geraak. Donkie het gedroom sy ma is siek en dat sy na hom roep.
Toe Donkie wakker skrik, het die wolke verdwyn. Sy vriend, die ou man, was ook weg.
Donkie het uiteindelik geweet wat hy moet doen.
Donkie het sy ma weer gevind. Sy was alleen en het oor haar verlore kind getreur. Hulle het lank na mekaar gestaar. Toe gee hulle mekaar ’n stywe drukkie.
Die donkie-kind en sy ma het weer vir mekaar lief geword. Hulle het geleer hoe om met mekaar saam te leef. Met die tyd het ander gesinne langs hulle kom bly.