Lank gelede was daar 'n meisie genaamd Kalabushe.
Kalabushe was 'n babbelkous. Haar ma het haar gewaarsku om nie so baie te praat nie, maar Kalabushe het nie geluister nie.
Op 'n dag word Kalabushe se tannie siek.
Sy het oorkant die vallei gebly, aan die anderkant van Kalabushe se dorpie.
Kalabushe se ma was daardie dag baie besig.
Eers laat die aand gee sy vir Kalabushe kos om vir haar siek tannie te neem.
Op pad soontoe ontmoet Kalabushe vir Sinson, die hiëna wat in 'n mens verander het.
Sinson het haar gevra wat sy dra.
"Vleis, eiers en melk," het Kalabushe geantwoord. Kalabushe se ma het haar gewaarsku om nie te sê wat in haar mandjie is nie.
Kalabushe het ook vir Sinson vertel dat haar tannie siek was en dat sy vir haar kos neem.
Sinson het begin kwyl toe hy aan die vleis dink wat Kalabushe dra.
Hy het vinnig voor Kalabushe uitgehardloop na haar tannie se huis toe.
Hy het Kalabushe se tannie ingesluk en homself met haar kombers toegetrek.
Toe Kalabushe by die huis aankom, was alles baie stil.
Sy het ingestap en geroep, "Waar is Tannie?"
Toe Kalabushe nie haar tannie se stem hoor nie, het sy na haar slaapkamer gestap.
Sy was verras om iemand onder die groot kombers te sien.
"Tannie, waarom is jou ore vandag so groot?" het Kalabushe gevra.
"Om jou beter te kan hoor," het Sinson van onder die kombers geantwoord.
"Tannie, waarom is jou oë vandag so groot?" het Kalabushe weer gevra.
"Om jou beter te kan sien," het Sinson geantwoord.
"Tannie, waarom is jou mond vandag so groot?" het Kalabushe laastens gevra.
"Om jou te kan insluk," het Sinson geantwoord. Sinson het opgespring en vir Kalabushe ingesluk.
Omdat Kalabushe so 'n babbelkous was, het sy aangehou om te praat, selfs al was sy in Sinson se maag.
Sy het baie vrae gevra.
Sinson was later so moeg van Kalabushe se vrae dat hy besluit het om haar uit te spoeg.
Kalabushe en haar tannie is deur die dorpsmense gered.
Van daardie dag af het Kalabushe nie meer so baie met vreemdelinge gepraat nie.