Lank, lank gelede, toe Sebra se vel nog wit was, was daar op 'n keer 'n vreeslike droogte. Maande lank val daar nie 'n druppel reën nie. Die gras word vaal, die bome word kaal, en die riviere droog een vir een op. Springbok, Vlakvark en Sebra moet elke dag ver loop op soek na water.
Een oggend toe Springbok by die enigste watergat kom, hoor hy 'n kwaai stem sê, "Kry jou ry! Skoert! Gee pad! Hierdie is Bobbejaan se watergat!" Springbok se oë rek. Bobbejaan sit op 'n klip langs die watergat en braai piesangs oor sy vuurtjie. "Maar ek is so dors dat my tong soos biltong voel," sê Springbok. "Waar gaan ek water kry?"
Bobbejaan brul."Nie my probleem nie! Skoert! Gee pad! Hierdie is Bobbejaan se watergat." Springbok sien Bobbejaan se lang tande en word bang. Daarom draai hy maar om en draf weg.
Ná 'n ruk kom Vlakvark daar aangedraf. Maar net toe hy sy kop laat sak om 'n slukkie water te drink, hoor hy 'n kwaai stem sê, "Kry jou ry! Skoert! Gee pad! Hierdie is Bobbejaan se watergat!" Vlakvark kyk verbaas op. Hy sien vir Bobbejaan wat op sy klip langs die watergat sit en piesangs braai.
"Maar ek is al so dors dat dit voel of ek stof geëet het," sê Vlakvark. "Waar gaan ek water kry?" Bobbejaan brul. "Nie my probleem nie! Skoert! Gee pad!Hierdie is Bobbejaan se watergat." Vlakvark wil hom eers vererg, maar hy sien Bobbejaan se lang tande en word bang. Daarom draai hy maar om en draf stertjie in die lug weg.
Ná 'n ruk kom Sebra by die watergat aan. Maar nog voor hy 'n slukkie water kan drink, hoor hy 'n kwaai stem sê, "Kry jou ry! Skoert! Gee pad!Hierdie is Bobbejaan se watergat!"Sebra snork en kyk op. Hy sien vir Bobbejaan wat sit en piesangs braai.
"Maar ek is al so dors dat dit voel of my tong heelnag buite my mond geslaap het," sê Sebra. "Waar gaan ek water kry?" Bobbejaan brul."Nie my probleem nie! Skoert! Gee pad!Hierdie is Bobbejaan se watergat." Bobbejaan wys sy lang tande. Sebra skrik nie. Met hoewe wat klip-klop oor die grond dawer, storm Sebra op Bobbejaan af. Hy is so kwaad dat hy sommer dwarsdeur Bobbejaan se vuurtjie hardloop. Jy sien net vonke en rook en piesangs vlieg.
Bobbejaan probeer wegkom, maar dit is te laat. Sebra skop hom so hard dat hy deur die lug trek. "Einatjie tog!" skree Bobbejaan. Hy het met sy agterstewe op 'n warmgebakte klip te lande gekom. Die klip is so warm dat dit Bobbejaan se hare wegskroei. Van daardie dag af het Bobbejaan nie hare op sy sitvlak nie.
En Sebra se vel was nooit weer so spierwit nie. Bobbejaan se vuurtjie het dit vol strepe gebrand.
Dit was weer veilig om by die watergat te gaan drink. En elke oggend terwyl hulle water gedrink het, het Springbok, Vlakvark en Sebra gesing, "Kom maak gerus jou keel hier nat. Hierdie is ons almal se watergat!"