

Een dag, lank gelede, het al die voëls bymekaar gekom en 'n vergadering gehou. Hulle wou 'n koning hê, net soos die mense en die diere. Die vraag was watter voël sou hulle kies om hulle koning te wees?
"Dit moet Arend wees," sê die een. "Hy is so sterk en koninklik!" "Nee. Hy het geen kroon nie en wanneer hy roep, klink hy te hartseer," sê 'n ander. "Dan moet Volstruis wees want hy is die grootste van al die voëls en hy brul soos 'n leeu," roep nog een uit.
"Ek dink EK moet koning wees," stel Pou trots voor. "Maar ék het die grootste oë van alle voëls en dus moet ek koning wees," pleit Uil. "Nee Uil. Nie jy nie," skree die voëls. "Jy slaap wanneer die son skyn."
En so het hulle met 'n gekwetter voortgestry en nie juis gevorder nie.  Toe kry een voël 'n blink idee. "Die een wat die hoogste kan vlieg, kan koning wees," sê sy.   "Ja! Ja!" skree almal en vlieg hoog in die lug op.
Gans het vir een dag reguit oor die hoogste berge gevlieg.  Arend het vir twee dae bo-oor die berge gevlieg. Maar Aasvoël het vir drie hele dae reguit in die son in gesweef sonder om te stop.
Hoog bo hulle hoor die voëls hoe Aasvoël uitroep, "Ek is die hoogste! Ek is koning!"
Maar toe hoor Aasvoël 'n piepklein stemmetjie net bo sy kop. "Tienk, tienk, tienk! Ek is die hoogste! Ek is koning!" Dit was klein Neddikkie. Hy het die hele tyd aan aasvoël se vlerke vasgeklou soos hy in die lug gesweef het.
"Jy sal my nie weer wen nie," sê arme Aasvoël en sweef weer in die lug op. Hy vlieg hoër en hoër totdat hy nie meer kon nie. "Ek is hoër as enige ander voël. Ek is julle koning!" roep hy triomfantelik uit.
Maar weereens, onder sy vlerk skuil die klein Neddikkie. "Tienk, tienk! Tienk, tienk! Dit is ek, die kleinste een! Ek is julle koning!"  Aasvoël was dié keer te moeg om nog verder te vlieg.
Met die klein voëltjie onder sy vlerk, sweef Aasvoël terug grond toe. Die ander voëls was baie kwaad vir Neddikkie. Hulle het op hom gewag, reg om al sy vere uit te pluk.
Die klein voëltjie het gesien hoe kwaad hulle was, en voor hulle iets kan doen, vlieg hy vining in 'n leë slanggat in.
"Met jou groot oë moet jy 'n ogie hou op die gat en as Neddikkie uit kom, moet jy hom vang," sê die voëls vir Uil. En so het Uil voor die gat gaan sit om wag te hou.
Maar die son was warm en Uil het vinnig aan die slaap geraak. Die klein voeltjie het skelm uit die gat geloer, gesien dat Uil vas aan die slaap was, en zz-zip, weg is hy!
Uil was baie verleë omdat hy die voeltjie laat ontsnap het. Nou jag hy net in die nag en deur die dag slaap hy, weg van die ander voëls af.

