Nozibele en die drie hare
Tessa Welch
Wiehan de Jager

Lank gelede het drie meisies hout in die bos gaan soek.

1

Dit was 'n warm dag, daarom het hulle na die rivier toe gegaan om af te koel.

Hulle het in die water gespeel en geplas en geswem.

2

Skielik besef hulle dat dit al laat was.

Vinnig het hulle terug na die dorpie toe gestap.

3

Toe hulle al amper by die huis was, sit Nozibele haar hand op haar nek. Sy het haar halsband vergeet!

"Gaan asseblief saam met my terug!" het sy haar vriende gesmeek. Maar haar vriende het gesê dit is al te laat.

4

Nozibele het alleen teruggegaan na die rivier toe. Sy het haar halsband gekry en haastig huis toe gestap.

Maar sy het in die donker verdwaal.

5

In die verte het sy 'n hut gesien waar 'n lig brand.

Sy het vinnig soontoe geloop en aan die deur geklop.

6

Sy was verras toe 'n hond die deur oopmaak en sê: "Wat wil jy hê?"

"Ek het verdwaal en soek 'n plek om te slaap," het Nozibele geantwoord.

"Kom binne, of ek byt jou!" het die hond gesê. Nozibele het ingegaan.

7

"Kook vir my!" het die hond gesê. "Maar ek het nog nooit vir 'n hond gekook nie," het Nozibele geantwoord.

"Kook, of ek byt jou!" het die hond gesê. Nozibele het toe vir die hond kos gekook.

8

Toe sê die hond: "Maak my bed op!" Nozibele het geantwoord: "Ek het nog nooit 'n bed vir 'n hond opgemaak nie."

"Maak die bed op, of ek byt jou!" het die hond gesê.
Nozibele het die bed opgemaak.

9

Sy moes elke dag vir die hond kook, die hut uitvee en goed was.

Op 'n dag sê die hond: "Nozibele, vandag gaan ek by vriende kuier. Vee die huis uit, kook die kos en was my goed voordat ek terugkom."

10

Toe die hond weg is, pluk Nozibele drie hare uit haar kop uit.

Sy het een haar onder haar bed gesit, een agter die deur en een in die kraal.

So vinnig as wat sy kon, het sy huis toe gehardloop.

11

Met sy terugkoms, het die hond na Nozibele gesoek. "Nozibele, waar is jy?" het hy geroep.

"Ek is hier onder die bed," het die eerste haar geroep. "Ek is hier agter die deur," het die tweede haar geroep. "Ek is hier in die kraal," het die derde haar geroep.

12

Die hond het geweet Nozibele het hom gekul. Hy het al die pad na die dorpie toe gehardloop. Maar Nozibele se broers het hom met stokke ingewag.

Die hond het toe omgedraai en is nooit weer gesien nie.

13
You are free to download, copy, translate or adapt this story and use the illustrations as long as you attribute in the following way:
Nozibele en die drie hare
Author - Tessa Welch
Translation - Fanie Viljoen
Illustration - Wiehan de Jager
Language - Afrikaans
Level - Longer paragraphs